Met die onlangse skoolvakansie het baie ouers sekerlik gevoel dat hul kinders te veel tyd op hul selfone of rekenaars of voor die televisie deurbring. Hoe moedig jy jou kinders aan om eerder ’n boek te lees? En hoe kweek jy by hulle liefde vir lees?

Algemene wenke – Ouer Een

  1. Sorg dat daar boeke in die huis is. Koop, of neem uit by die biblioteek. Nie negentien-voertsek se verstokte ou boeke nie. Opwindende, nuwe boeke! As jy nie weet wat nie, vra. Kyk gerus ook met watter boeke loop ander kinders by die skool rond. Of Google!
  2. Lees self, al lees jy net koerant/blaai deur ’n tydskrif. Kinders volg die voorbeeld wat hulle sien.
  3. Lees saans vir kleiner kinders stories met bedtyd. Al haat jy lees. Fake it until you make it! Dis tot jou kind se voordeel.
  4. Ons almal ken ons kinders se Achilleshiel. Gebruik dit tot jou voordeel! Moenie net rugbyklere/netbalklere/selfone/fietse koop nie, laat hulle wérk daarvoor. Al is dit vyf-vyf bladsye. Jy betaal en hulle moet iets teruggee. Neem – en gee. (Ouderdomsverwant. Van my jonger seun verwag ek vyf of 10 of 15 bladsye en van die ouer een 30 of 50.)
  5. Begin aanvanklik met minder bladsye en verhoog dit stelselmatig. En laat jou kind agterna vir jou vertel wat hy/sy gelees het. “Hierdie storie lyk erg cool. Waaroor gaan dit?” Vluglees ’n stuk, sodat jy weet of dit die waarheid is. My seuns is deesdae so opgewonde oor dit wat hulle gelees het, dat hulle sommer self kom vertel.
  6. Feit: Hoe meer tyd jou kinders op elektronika/voor die TV spandeer, hoe meer gaan jy sukkel om hulle te laat lees. Beperk hulle tyd voor elektronika/die TV. Dis buitendien nie goed vir hulle nie (sê die wetenskaplikes, sielkundiges, arbeidsterapeute en onderwysers). En laat hulle léés vir die voorreg om TV te mag kyk/speletjies te mag speel. Lees 45 minute, dan kan jy ’n uur lank TV kyk. (Ouderdomsverwant.)
  7. Wees ’n goeie politikus. Speel gladde jakkals (under cover). “Lees net gou hierdie vyf bladsye, dan mag jy maar TV kyk/X-box speel.” (Gladde jakkals werk natuurlik net vir kleiner kinders. Vir groter kinders moet ’n mens verduidelik wat van hulle verwag word en hoekom.)
  8. Indien jy self ’n leser is en die boek gelees het, vertel die storie totdat dit op sy interessantste is en hou dan op. Gee vir die kind die boek om self verder te lees. Dit werk wonderlik met tieners wat reeds lees, maar nie noodwendig konsekwent lees nie. Hoërskoolseuns is mal oor spioenasiereekse en baie aksie. Deon Meyer, David Baldacci, Lee Child en dies meer.
  9. Motivering: My ouer seun het uit sy eie vir my kom sê, dat sedert hy lees, hy sy skoolwerk makliker vind en dit ook geniet om opstelle te skryf. Vantevore het hy my probeer omkoop om dit namens hom te doen. My jonger seun se onderwyseres het gesê sy kan die verskil in sy woordeskat en skoolwerk sien.
  10. Daar is ’n genre vir elke kind. Kry hom/haar aan die lees. Dit maak ’n definitiewe verskil en dit verg wel aanvanklik ’n bietjie kreatiwiteit, maar later vra hulle vir boeke.

Algemene wenke – Ouer Twee

  1. Lees van babadae af vir jou kinders stories, gebruik eers prenteboeke.
  2. Hou hulle betrokke by wat jy voorlees, deur dit opwindend te maak – gebruik verskillende aksente, stemtone en praat met jou gesig as jy die storie lees! Kinders hou van toneelspeel en sal definitief die storie meer geniet as ma of pa dit met groot bravade aanbied.
  3. Vra hulle vrae, nie om te toets nie, maar om sommer van vroeg af hulle kognitiewe vermoëns te oefen en dit verskaf ook ’n manier om te kan weergee wat hulle as die belangrikste aspekte van die storie sien. Weergee van inligting is ’n vaardigheid wat hulle deur hulle hele skoolloopbaan en daarna sal nodig hê. Op vroeë ouderdom moet jy egter weerhou daarvan om noodwendig hulle siening as reg of verkeerd te interpreteer en hul eerder toe te laat om hulle weergawe van die storie oor te vertel. Dit laat ruimte vir die verbeelding om baie draaie te maak!
  4. Neem hulle gereeld biblioteek toe, dat hulle die wonderlike plek kan ervaar, laat hulle daar tussen die rakke boeke wegraak sodat dit moeilik raak om te besluit watter boek hulle wil huis toe neem, so maak jy hulle opgewonde met julle weeklikse besoek, en sien hulle uit daarna om daardie boek wat hulle nie kon huis toe neem nie, te gaan soek!
  5. Moet nooit ophou voorlees nie! Ja selfs al is hulle tieners! Baie mense mag dalk dit as vreemd vind, maar voorleestyd is ook tyd om familiebande te bou. Dis ’n tyd waar geen tegnologie toegelaat word nie, dis tyd vir ontdekking, saam lag en huil. Dis nie nodig om net prenteboeke aan jonger kinders voor te lees nie, jy kan self goeie literêre werke wat spesifiek vir kinders oorgeskryf is soos Shakespeare se Midsummer Night’s Dream of Homer se Odyssey vir hulle voorlees. Meeste kinders sal die avonture van Odysseus fassinerend vind en so kweek jy ’n liefde nie net vir lees nie, maar ook vir goeie klassieke werke wat die verbeelding aangryp, hulle wêreldkennis verbreed en ook taalgebruik ver bo hulle portuurgroep gee. Ouer kinders kan ook die kans gegun word om die voorleeswerk te doen.
  6. Lees en bespreek ook nie-fiksieboeke soos ’n reisgids of ’n stadsgids en verken die wêreld vanuit julle eie sitkamer. Laat hulle die land of stad soek op ’n kaart en ’n merker daarop plaas. As julle een boek per week lees oor ’n spesifieke land of daar word melding gemaak van ’n land of stad in ’n fiksieboek, kan julle teen die einde van ’n jaar 52 lande besoek het vanuit julle sitkamer!
  7. Heel laaste op my lys van wenke is oudio-boeke aangesien dit die gebruik van tegnologie insluit, My rede hiervoor is vir die kinders wat wel lief is vir boeke, maar dalk weens disleksie of ander aspekte lees as ’n groot uitdaging ervaar. Dit gee hulle die geleentheid om hulle ouditiewe vaardighede in te span en nog steeds die verbeeldingswêreld van die boek te betree.

Algemene wenke – Ouer Drie

  1. Stel ’n voorbeeld deur self te lees. Ek is lief vir lees en sy sien my gereeld met ’n boek in die hand. Maak dit iets wat ’n algemene handeling in die huis is.
  2. Moet hulle nie te vroeg aan tegnologie blootstel nie. ’n Boek kan gou oninteressant lyk as dit met ’n tablet of selfoon moet kompeteer. Stel kinders van kleins af aan boekies bekend wat interaktief is: flappies wat kan lig, verskillende teksture op bladsye, ensovoorts. Dit stimuleer die brein en skakel dit nie af soos met skermtyd nie.
  3. Lees saam met jou kind. Maak tyd om saam te lees. Gebruik verskillende stemtone, sing, trek gesigte. Dit maak lees pret.
  4. Moedig hulle aan om grense te verskuif. Daag hulle uit om te sien hoeveel boeke hulle in bepaalde tye kan lees. Belonings kan ook gegee word. Hulle kan ook uitgedaag word om dikker boeke te lees.

Algemene wenke – Ouer Vier

’n Vinnige manier om dit te onthou: KWEEK

  1. “Kom saam!” Nooi die kinders saam om biblioteek of boekwinkel toe te gaan.
  2. “Waarheen gaan ons?” Ons gaan op ’n lekker reis na storieland, of inligting kry oor die grootste soort pikkewyn wat ooit geleef het, of leer hoe om ’n resep vir die feetjies te skryf.
  3. Een gunsteling boekie is altyd in die kar, soos wat ons tydskrifte in ’n wagkamer sal lees. Dit help baie om die rit korter te maak
  4. Een van my boeke altyd bo-op die koffietafel om byderhand te hê. (Modelleer die uitkoms wat ons wil sien.)
  5. Kom ons gaan ruil dit om of kry nog een! Ek dink die idee is om boeke baie vinnig om te ruil of nuwe boeke op die koffietafel te roteer.

Algemene wenke – Ouer Vyf

  1. Skep ’n liefde vir stories: Lees vir jou kinders voor sodat hulle weet hoe lekker dit is om in ’n storie weg te raak.
  2. Maak tyd vir lees: As jy elke aand voor bedtyd vir hulle ’n storie lees, sal hulle gou besef dat leestyd lekkertyd is en dat ’n mens soms ’n afspraak met lekkertyd moet maak.
  3. Stel boeke beskikbaar: Boeke hoort nie net op ’n rak nie. Boeke moet deel vorm van jou tuiste. Dit is nie iets heilig wat ons met groot versigtigheid moet gebruik nie. Dis deel van wie ons is en moet gevat, gevoel, geruik en gebruik word. ’n Gebuigde bladsy of watermerk kan maklik met ’n nuwe kopie vervang word, maar die liefde vir lees kan nie gekoop of afbetaal word nie.
  4. Beloon: Kinders reageer goed op belonging. Beloon jou kleinding vir elke boek gelees. Stel ’n doelwit: jy kry R1 vir elke boek wat jy lees, maar ek betaal in paaiemente van R5. So die lesertjie moet 5 boeke lees om die belonging te kry.
  5. Lees-uitstappies: Gaan saam met jou kinders biblioteek toe en laat hulle self boeke kies. Laat hulle deur die verskillende boeke oor onderwerpe wat hulle interesseer blaai.
  6. Kombineer gesinstyd en leestyd: Besoek ’n boekwinkel wat ’n kinderhoekie het. Sit saam met jou kinders op die mat en lees vir hulle voor uit ’n boek van hul keuse. Of laat hulle vir jou voorlees uit ’n boek.
  7. Stel hulle bloot aan nuwe boeke: Laat hulle saam met jou op die internet loer na nuwe boeke en hulle gunsteling skrywers.
  8. Eie stories: Laat hulle toe om hulle eie stories te vertel en soek dan boeke wat by hulle storie sal aansluit.
  9. Verskeidenheid: Stel hulle bloot aan ’n verskeidenheid tekste. Dit is belangrik dat kinders besef dat daar verskillende soorte tekste is en dat dit verskillend interpreteer word en die doel van elk verskil. Deel interessante advertensies, lees oulike gedigte, wys vir hulle berigte van nuuswaardige gebeure waarvan hulle bewus is.
  10. Stel die voorbeeld: Kinders doen wat ons doen, eerder as om te maak wat ons sê. As hulle jou sien lees, sal hulle self ook lees!

Oorspronklike artikel, https://www.litnet.co.za/hoe-maak-jy-jou-kind-lief-vir-lees-ouers-deel-hul-wenke/